Ek wil julle graag ‘n storie vertel. Ons almal het al die storie voor ons gesien afspeel, of was selfs deel van die storie. Somige van ons het ‘n passie gevind en ons jaag dit na met alles wat ons het. Ander vind ‘n stokpertjie of ‘n tydsverdryf. Die moeilikheid kom in wanneer ‘n passie gedrewe jagter ‘n tydsverdryf jagter se slim jakkalse moet gaan soek.
So oor wie gaan die storie dan? Pietie, Pietie van die plaas. Hy is tans 20 jaar oud en noem homself die jakkals dokter. Hy is boerseun in murg en been, kompleet met ‘n John Deer keps en bruingebrande arms, bewyse van trekker ry in skool vakansies en buite wees. As hy vir jou moet vertel watter verjaarsdag die lekkerste was moet dit seker sy 7de verjaarsdag wees, toe sy oupa vir hom ‘n windbuks gegee het. Hy is ‘n normale boerseun so normaal dat hy selfs op 14 sy eerste bok geskiet het. Normaal genoeg om te matrukileer, en volgens pa se wense IETS te gaan swot.
Ontgroening tyd is hard, en lank op die universiteit. Pietie wat uit die huis uit skool gegaan het kyk by sy koshuis kamer se venster uit sien hoe die reën op die teerpad val. Hy snuif die lug diep in.’Nat teerpad stink. Die swot besigheid is sommer laf. Hy weet hy wil boer. Nou moet hy tyd hier in die stad kom mors. En om eerlik te wees, hy is honger, honger vir sy ma se warm kook kos. Hy dink hoe ‘Lucky’ is sy pel Johan wat Desember na matriek ploeg ingesteek het op sy eie stukkie verjaarsdag grond.
Met ‘n gejuig hardloop Pietie en nuwe studente vriende die hele stad vol. Laaste inkope voor die langpad terug plaas toe. Hy sug verlig toe sy bakkie se neus vry breek uit die stad se vrot lug. Vakansie uit eindelik. Lang pad…. Stof pad. Die bloed begin weer in sy are druis. Groen grasperk… Tuis.
‘n Week later is ma se kook kos nie meer so aanloklik soos ‘n Doppie saam met Johan nie. Hy wil hoeka gaan kyk hoe lyk dit daar by hom, Glo al 200 skaap en 100 bees sterk. So het dit gekom dat van die vorige maand vriend Johan net 198 skaap en 99 bees sterk is. Want die jakkalse is honger en die plaas diere is maklik. Johan reël sommer dat as Pietie kom kuier dan kan hulle veld toe gaan. Dalk, net dalk loop hulle die wetters raak. Hulle kan mos in die bakkie kuier, Die manne pak die bakkie dit lyk of hulle vir ‘n week by oppiekoppie gaan kamp met al hulle ‘gear’ van geweer tot koelboks niks bly agter nie.
Enige persoon kan in die veld ingaan, ‘n paar walse en melodies deur die geleende foxpro speel, en met geluk ‘n paar jakkalse skiet. En met groter geluk kan hy die proses weer met sukses herhaal. Baie sal dan dink hy is nou’n suksesvolle probleemdierspesialis. En Pietie is mos normaal, so normaal soos stof op die ‘dashboard.’ So hy beskou homself as Enige persoon. Hy stop om te ‘score’ by die eerste, beste online shop en laai sy mandjie vol. Hy kan maar koop die geld sal inkom. Die kredietkaart word in die rooi gedruk. Toerusting moet nou aan geskaf word, 2 ure word op forums en facebook groepe gespandeer, om ‘n meesters graad te verwerf. Nou is hy amptelik ‘n jakkals jagter wat kan roep en skiet. Nou gaan hy geld maak.
Hy bedel nooit weer vir ‘n dop in die stad nie. Van nou af gan hy dop koop, sommer vir almal.
Nou is die jakkalse baie moeiliker om te skiet. Dis paartyd en met Pietie se meesters graad wat hy van sosiale media af vir homself toegeken het weet hy dit nie. Die nagte is boonop te koud om uit te gaan.(asof koue nou \’n jakkals se pens vol hou) Wie wil nou loop koud kry en niks skiet nie, en dit nog op ‘n ander man se plaas.
Augustus maand staan einde se kant toe. ‘n Oproep van oom Koos, waar Piet al ‘n paar jakkalse geskiet het, kla oor die jakkalse wat nou begin maai onder die skaap. Wel die ergste koue is gebreek so die jakkalse behoort ook nou beter te reageer. Twee weke later word die toerusting gou afgestof. Gelukkig weet sy ma in watter kas die foxpro gebêre is. Op Oom Koos se plaas gesels die jakkalse lekker maar Pietie het geen sukses nie. Hy gebruik nog steeds dieselfde kos klanke wat altyd sukses opgelewer het. Hy doen als presies soos laas, so waar lê die probleem? Dit is sekerlik nie sy skuld nie dit moet seker die toerusting wees of iemand anders moes seker die jakkalse slim kom maak het. Om ‘n slim jakkals te skiet moet daar mos slimmer planne gemaak word, en Pietie is mos boer gebore en – ‘n boer maak mos ‘n plan. Drie dae later is Pietie weer in oom Koos se veld. Met ‘n splinternuwe nagsig telleskoop is sy ma ‘n hele paar duisend rand armer want want sy kredietkaart is nog steeds in die rooi.
Diè nag kraai Pietie weer koning na 2 jakkalse aan die bakkie se hakke hang. Die nagsig was die moeite werd. Hy het binne hom geweet dit kon nie sy skuld gewees het nie.
Oktober maand word al die toerusting weer gebêre want eksamen en studies kom mos eerste en tyd vir jag is daar beslis nie. Met ‘n goeie raport kom Pietie huistoe met ‘n ligte hart, die harde werk op die plaas lê voor, Desember is druktyd en Pietie werk hard op die plaas deur die dood snikke van planttyd, die mielies moet geskoffel word en onkruid moet bespuit word. Uit asem val Pietie met sy stowwerige lyf op sy bed neer. Nog ‘n plant seisoen is op ‘n end, nou kan hy weer by die lekker dinge in die lewe uitkom. Eers ‘n lekker braai by Johan en dan is daar ‘n paar jakkalse in die veld met ‘n losprys op hulle koppe.
Oom Koos bel, nog 4 lammers is verlore tot by die hekke van Hades. Die braai gaan maar moet wag…. Of dalk nie. Hulle kan mos gou ‘n braaitjie in die veld maak, of hoe? Weer eens lyk die bakkie asof daar ‘n Alaska ekspidisie onderweg is. Die weer word gekyk en dit lyk asof die weer aan sy kant is. Pietie dink hy is ‘n slim knaap om werk en plesier so te meng. Twee vlieë met een klap, of is dit nou twee jakkalse met een skoot? (Hoe ook al, Kuier en geld maak op dieselfde tyd is mos altyd ‘n slim plan.)
Die brannas loop en die koeëls jaag, staanplek na staanblek hang die hakke swaarder. Vroeg oggend stop Pietie by die huis en vryf oor sy wit hilux se neus. ‘Jy het jou goed gedra’ fluister hy vir sy bakkie. “en die slim manne sê mens kan nie met ‘n wit bakkie jag nie.” (Hy sal wel nog sy fout agter kom.) Oom Koos het intussen aan sy buurman gesê dat hy nie meer met ‘n jakkals sukkel nie. Die woord versprei soos ‘n veldbrand en Pietie is so besig hy vergeet dat hy eintlik ‘n dag loper is. Elke aand is daar ‘n nuwe plaas om te jag, die kleintjies is van die gate af en te dom vir hulle eie beswil. By die koperasie staan Pietie by die deur en knoop geselsies aan met ‘n boer uit die omgewing. Hy lag uit sy maag uit soos hy vertel hoe goed hy die jakkals ingeroep het dat die jakkals amper ‘n duik in sy bakkie gehardloop het. Piet is nou ‘n meester jagter. Ongelukkig is die vakansie ook net so lank en hy kan tog ook nie almal op een slag help nie.
Hy stop voor sy Koshuis in sy wit Hilux, agter op is ‘n skietstoel vas gemaak en op elke deur is daar ‘n groot magneet met sy ‘Jakkals dokter’ logo op. Hier het hy vir hom ‘n status los gekoop wat hy glad sou wou verruil nie. Die status van probleemdierspesialis word moeilik aanvaar, want teerstrate en hoë hakskoene het nog nie half gevrete koeie gesien nie, hulle ken nie die reuk van grond en bloed nie. Die magnete word in die koshuis weggesteek en die stoel word vinnig by ‘n ander pel se woonstel afgelaai. Niemand hier hoef te weet nie.
Wie ken vir Pietie? Ek ken hom glad nie, maar ek het min of meer die prentjie al ‘n paar keer gesien. Dalk nie Pietie nie maar ook Koos of Klaas . Soos ons hulle noem die vakansie jagters, die mooiweersjagters, brandewyn jagters of sommer die witbakkie brigade.
Ek verstaan baie goed dat elke jagter van onder af moet begin. Ek was immers ook daar. Deur die jare het ek geleer dat Piet se verhaal die mooi en lekker deel is wat baie mense raaksien. Voor jy egter Pietie as ‘n rolmodel wil sien of in sy spore wil volg. Lees asseblief verder om die ,wind op kant van die waarheid te hoor.
Geduld is verseker ‘n eienskap wat baie beproef word met probleemdier beheer. ‘n Stoel raak nogal hard as mens vir 6 ure op een plek sit en teelgate oppas. Net om eers die groot jakkalse te kan skiet voor die kleintjies van kant gemaak kan word. Kleintjies bly die beste troefkaart om die ou skelm jakkalse te kan skiet. Maar sonder geduld moet jy maar eerder nie probeer nie
Om 4 keer op ‘n nag nat te reën en dan in koue wind aan te gaan om ‘n ander man se probleem op te los, dit is nie vir die lafhartiges nie. Om deur die winter die ryp van jou baadjie en toerusting af te vryf asof dit ‘n normale ding is om te doen, Ook nie iets vir die lafhartiges nie. Die manne wat goeie diens lewer en ‘n probleem wil oplos skiet regdeur die jaar.
Kennis van die veld is van onskatbare waarde vir die jagter. Nie net kennis van roofdiere nie maar ‘n wye spektrum. Ek het al vele male gesien hoe daar ‘n klein steenbokkie se roep gebruik word in ‘n tyd wat daar nie klein steenbokkies in die veld is nie. Mens wil tog jou storie aan die jakkals as geloofwaardig kan verkoop.
Om sprore te kan identifiseer is belangrik maar om hulle in konteks te kan sien is nog belangriker. Spore moet ‘n storie kan vertel. Veral om roofdiere se gebiede te identifiseer. By ‘n vangs is dit van uiterste belang om spore korrek te kan lees.
Die gedragspatrone van diere verskil geweldig deur die jaar. Teel seisoene, kleintjies grootmaak, ens. maak ‘n groot verskil in hoe jy die dier kan uit oorlê. Loop gewoontes, water drink tye is als goed wat in berekening gebring kan word as die jag beplan word. ‘See the jackal, hear the jackal. Become the jackal.’
Om ‘n skelm jakkals te kan skiet vat dit soms skote van 300m. In sommige gevalle meer. Maak seker jy en jou geweer verstaan mekaar en oefen maar gereeld. Ek dink elke jagter het al jakkalse mis geskiet. En spyt gekry daaroor. Mis skiet is seker die beste leerskool vir enige probleemdier.
My ma sê altyd, ‘n mens is nooit te oud om te leer nie. En dit is die reine waarheid. As jy dink jy weet alles van alles af, gaan dink maar gerus weer. Want daar sal altyd iemand wees wat iets weet wat jy nie weet nie. Daar is nog ‘n gesegde wat lui: luister twee keer en praat een keer. Tog het jy twee ore en net een mond. Wees altyd versigtig dan jakkals nie dalk vinniger as jy leer nie.
Dit maak nie saak in watter bedryf jy staan nie, êrens kry jy met mense te doen. As jy nie mense kennis het nie en nie positiewe verhoudings kan bou nie sal dit moeilik wees om ‘n boer te oorreed om jou alleen los te laat op sy grond. Onthou jy die ‘speach’ wat jou ma jou gegee het voor jy by ander mense gaan kuier het? Onthou jou maniere, onthou asseblief en dankie, luister as die tannie of oom met jou praat. En die res volg oor waardes en etiket. ‘n Skelm jakkals is een ding maar ‘n skelm jakkals jagter is op ‘n heel ander vlak. En nog ‘n groter probleem as wat n jakkals ooit kan wees.
‘n Skelm jakkals het die besonderse vermoë om sy eie planne te kan maak. Dit stem nie noodwendig saam met die planne van die jagter nie. Jou planne moet net altyd beter wees om die probleem te kan oplos. Ten spyte dat jy reeds jakkals gedrag op die punte van jou vingers ken. Sal jy altyd iewers verras word deur ‘n jakkals se planne. Daar is nie altyd tyd om vir jou koffie te gooi en te top oor die situasie nie.
Ek kan die eienskap nie genoeg beklemtoon nie. Punt nommer een, jy werk met ‘n vuurwapen. Moet nooit veiligheid agter weë laat nie. Buskruit en alkohol meng ook glad nie. Dit klink baie logies en na die regte ding om te doen. So doen dit reg. Jy vat verantwoordelikheid vir elke keer as jy jou vinger op die sneller sit. Jy vat ook verantwoordelikheid vir jou eie naam. Pas jou naam op, jy het net een.
Opofferings is deel van die bedryf. Jy offer slaap op. Jy offer familie tyd op. Jy offer jou warm bed op. Jy offer jou eie planne op as ‘n boer op kort kennis laat weet dat ‘n rooikat ‘n karkas toe gekrap het en jy weet ook dat vanaand die beste kans is om hom voor te sit. Soms vat dit meer as wat die normale mens kan hanteer. Soms is dit net die passie wat in jou are loop wat jou aan die gang hou.
Indien jy oorweeg om in die jakkalsjag bedryf in te beweeg. Weet dat dit nie altyd maklik is nie. Weet dat dit makliker is om deel van die probleem te wees as wat dit is om deel van die oplossing te wees.
Maak seker dat jy al die moontlike kennis opbou voor jy begin ondervinding opbou.